Deur Stacey Kirk (Reaching Beyond the Blackboard)
Daar’s ’n bekende aanhaling van Benjamin Franklin wat losweg op die volgende neerkom: As ’n mens vir iemand iets sê, vergeet hy dit tien teen een. As jy hom wys hoe dit gedoen moet word, onthou hy dit dálk – maar deur hom betrokke te maak by die proses, leer jy hom ’n nuwe vaardigheid.
Gegewe die geweldige aanpassings wat ouers en onderwysers oor die afgelope jaar moes maak, is die wysheid van hierdie uitspraak dalk geldiger as ooit.
Die tempo waarteen die wêreld verander, die spoed van tegnologiese vooruitgang en die toenemende eise van onmiddellike kommunikasie spel net een ding: verandering is die enigste konstante.
Ons het die afgelope jaar almal gesien hoe die hele wêreld voor ons oë verander – en onderwysers moes eenvoudig aanpas, of agterbly. Dié aanpassing het egter verreikender gevolge as om nét die uitdagings van die pandemie te bowe te kom. Die Vierde Industriële Revolusie is hier – en ons kan óf op die perron bly staan en kyk hoe die trein verbyry, of besluit om op te spring en saam te ry.
Dit is belangriker as ooit dat vandag se kinders op hulle voete moet kan dink, innoverend moet wees en probleme moet kan oplos. Ons moet hierdie generasie toerus om selfversekerd en selfgeldend te wees, maar ook verantwoorderlik en voorbereid vir die toekoms. Net soos wat die wêreld om ons verander, is daar ook nuwe maatstawwe vir wat nuwe generasies gaan nodig hê om suksesvol te wees. Die klaskamer van die een-en-twintigste eeu kan nie op ’n “een-grootte-pas-almal”-benadering staatmaak nie. Meer as ooit moet gefokus word op die ontwikkeling van vaardighede eerder as net die inneem van feite.
Wat beteken dit prakties vir die onderwys? Na my mening is die antwoord baie duidelik: Ons tradisionele leerbenadering moet verander.
Onderrig en leer in die 21e eeu
Die dae van ’n outydse onderwyser wat voor die klas staan en feite uitryg terwyl sommige leerders luister en ander se gedagtes dwaal, is iets van die verlede. Net so hoort ’n stelsel wat dit vir sommige leerders maklik maak om uit te blink terwyl ander net-net bybly of heeltemal van die wa afval, tot die oude doos. Ons toekoms hang hiervan af – en daarom moet ons onderwysstelsel soos nooit tevore nie daarop fokus om leerders aktief by die leerproses te betrek.
Student-gesentreerde leer is ’n onderwysbenadering wat al hoe meer momentum begin geniet terwyl skole en onderwysers toenemend bewus word van die groeiende behoefte om die bestaande stelsel aan te pas en te verander. Eenvoudig gestel is student-gesentreerde leer ’n onderrigbenadering wat die fokus op die leerder eerder as die onderwyser laat val. Binne hierdie benadering word die verhouding tussen onderwyser en leerder as ’n soort vennootskap gesien en is die doelwit om kommunikatiewe, samewerkende, kritiese en kreatiewe vaardighede te slyp. (In Engels staan hierdie vaardighede as die “4 C’s of 21st-century learning” bekend: communication, collaboration, critical thinking & creativity).
Voordele van student-gesentreerde leer
As onderwyser wat aktief probeer om ’n student-gesentreerde benadering in my eie klaskamer te volg, kan ek getuig van die talryke voordele wat hierdie skynbaar “riskante” benadering inhou:
• Leerders word ruimte gegee waarbinne hulle kan leer hoe om hulleself uit te druk en hulle eie, unieke idees en opinies te verwoord.
• Die onderwyser se werksbevrediging is gewaarborg, omdat leerders werklik betrokke is en belangstel – alhoewel ’n mens die leisels effens moet laat los en voorbereid moet wees op ’n bietjie “produktiewe chaos” eerder as stilte en tradisionele dissipline.
• Omdat dié leerbenadering op probleemoplossing en vraagstelling gebaseer is, bly leerders deurgaans aan die werk, en word noodsaaklike hoër-orde denkvaardighede voortdurend gebruik en ontwikkel.
• Leerders werk elkeen teen sy of haar eie pas. Nie net word spanning op dié manier verlig nie, maar dit skep ook geleentheid vir voortydige ingryping en ondersteuning.
• Leerders leer om kreatief te dink, effektief te kommunikeer en in ’n span te werk – noodsaaklike oorlewingsvaardighede in hierdie nuwe era.
Hoe lyk ’n stundent-gesentreerde klaskamer?
Wees gewaarsku: ’n Student-gesentreerde leeromgewing is nie noodwendig stil nie! Jy kan jou maar gereedmaak vir ’n klaskamer wat behoorlik gons met die vrolike en produktiewe gebabbel van leerders wat kliphard saamwerk. Natuurlik is jou taak as onderwyser steeds om goeie klaskamerbeheer toe te pas en onderskeid te tref tussen “georganiseerde chaos” en doodgewone chaos! Leerders behoort aktief te werk aan opdragte en projekte terwyl die onderwyser betekenisvol en betrokke bystand verleen. Die onderwyser en leerders word op dié manier “vennote” wat saamwerk om gedeelde doelwitte te bereik.
Individuele werk behoort sigbaar te wees en met trots uitgestal te word – ongeag van hoe onvolmaak of slordig dit dalk lyk. Dis belangrik dat leerders moet voel die klaskamer is ’n gedeelde ruimte waarbinne hulle elkeen as individu erken, gewaardeer en aanvaar word. ’n Student-gesentreerde omgewing moet vir elke leerder die geleentheid bied om te voel hul het ’n stem, en elkeen bemagtig om hulself te wees.
Hoe skep ek ’n student-gesentreerde klaskamer?
• Leer hulle die “Groot Gedagtes” en laat leerders toe om self die fyner detail te ontdek deur vraag-gebaseerde opdragte, take en groepwerk.
• Skep gereeld die geleentheid vir leerders om hulleself te evalueer. Hierdie self-asseserings en oordenkings behoort ook by die onderwyser se uiteindelike gradering en assessering betrek te word, omdat dit waardevolle insig bied in elke kind se begrips- en vaardigheidsvlak.
• ’n Onderwyser behoort nie heeldag agter ’n lessenaar te sit nie! Deur voortdurend in die klaskamer rond te beweeg, is jy in ’n beter posisie om vrae te vrae, begripsvlakke te peil en denke op ’n informele, vriendelike en nie-intimiderende manier te toets.
• Gebruik digitale platforms en tegnologie waar nodig om belangstelling, vaardighede en individuele behoeftes te ondersteun en aan te wakker. Digitale vaardigheid is vandag nie meer ’n bonus nie – dis ’n noodsaaklikheid!
• Skep platforms om leerders stem te gee en te bemagtig. Hou gereelde debatte en klasgesprekke en sit gerus ’n “voorstel-boks” in die klas, sodat leerders voel hulle insette word gehoor en maak saak. Skep ook die geleentheid vir leerders om hulle belangstellings te ontwikkel en uit te brei deur hulle keuses te gee. Vryheid van keuse gaan oor soveel meer as om net ’n opdrag of onderwerp te kies – dit gaan veel eerder daaroor dat hulle die leerproses hul eie maak.
Effektiewe onderrig in die 21e eeu gaan nie soseer oor hoeveel materiaal die onderwyser kan deurdraf nie, maar eerder oor wat leerders self kan ontdek. Deur elke leerder in jou klas meer bemagtig, gefokus en betrokke te maak, word die grondslag gelê vir ’n nuwe generasie wat innoverend kan dink en ’n daadwerklike verskil kan maak!
Verwysings:
NellieMaeEdFdn. (2015). Transformation. Beskikbaar by: https://www.youtube.com/ watch?v=e6ieXLVCss4
Pearson Education Inc. (2016). Student-centered learning. Beskikbaar by: https://www.pearson. com/content/dam/one-dot-com/one-dot-com/global/Files/efficacy-and-research/ methods/learning-principles/Student-Centered_Learning.pdf
Teachings in Education. (2018). Student Centered Learning: Why, How, & What. Beskikbaar by: https://www.youtube.com/watch?v=WvzVAQkuSqU
Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die Teacha! Magazine (uitgawe 3.4). Lees die nuutste Teacha! Magazine hier.