Share This Post

Moedig aan, maar moenie prys nie: ’n nuwe benadering tot selfbeeld en skoolprestasie

Moedig aan, maar moenie prys nie: ’n nuwe benadering tot selfbeeld en skoolprestasie

Lauren Brown, Eenheid vir Studente-ontwikkeling / Kognitiewe Ontwikkelingspesialis

Wat laat kinders goed doen op skool? Dis maklik om te dink die antwoord is ’n hoë IK, ’n uitstekende skool met hoë akademiese standaarde, knap onderwysers, ’n kreatiewe kurrikulum en hoë eise wat aan leerders gestel word. Alhoewel hierdie dinge sekerlik ’n rol speel, lê die ware sleutel tot akademiese sukses nie in die buitewêreld nie, maar bínne-in elke kind. ’n Kind se persepsie van sy of haar eie vermoë om ’n doelwit te bereik (’n konsep wat as “self-effektiwiteit” bekendstaan) is ’n noemenswaardige aanduider van ’n kind se sukses op skool. 

Carol Dweck, skrywer van die boek Mind-set: The New Psychology of Success (2006) glo dat ’n kind se implisiete of innerlike persepsie van sy of haar vermoë ’n geweldige invloed het op uiteindelike prestasie. Kinders met ’n “vaste ingesteldheid” (“fixed mindset”) glo dat sukses die gevolg is van aangebore vaardigheid of talent. Resultate of uitkomste word gesien as ’n aanduiding van hierdie aangebore vaardigheid. Die probleem met ’n vaste ingesteldheid is dat dit ongelukkig verwronge aannames laat posvat: Wanneer ’n kind dan byvoorbeeld ondergemiddeld presteer in ’n toets, is die (foutiewe) outomatiese afleiding dat hul aangebore vermoë in dié vakgebied ook ondergemiddeld is. Daar is egter ’n groot aantal eksterne veranderlikes wat toetsuitslae beïnvloed – en selfs iets soos om op ’n leë maag toets skryf speel hierin ’n rol!

Lynreg in teenstelling met ’n “vaste ingesteldheid”, sien iemand met ’n “groei-ingesteldheid” sukses as die gevolg van harde werk, leergierigheid, opleiding en uithouvermoë. Wat binne hierdie perspektief van belang is, is nie soseer die toetsuitslae as sodanig nie, maar eerder die (buigbare) eienskappe binne-in elke kind – iets waaroor ’n mens heelwat meer beheer het. 

Een van die effektiefste maniere om ’n groei-ingesteldheid te kweek, is deur anders te kyk na die manier waarop kinders aangemoedig en geprys word. Daar’s ’n wêreld se verskil tussen aanmoediging en ophemeling of aanprysing. 

Gunderson et al. (2013:1526) verduidelik dit so: Deur ’n kind se poging aan te moedig, word hul gehelp om ’n stygende motiveringsraamwerk aan te leer. Aanmoediging vestig die begrip dat enige vermoë buigbaar is, dat sukses die gevolg is van harde werk, laat uitdagings na pret lyk en laat altyd ruimte vir verbetering. In lynregte teenstelling hiermee, bevestig aanprysing bloot die vaste ingesteldheid dat uitkoms en vermoë onlosmaaklik verbind is. 

Aanprysing fokus op uitkoms en inherente vermoë: “Sjoe, jy’t ’n A gekry vir jou toets!” Aanmoediging fokus op die kind se karakter en persoonlike keuses: “Sjoe, ek is so trots op hoe hard jy vir die toets geleer het!” Die voorbeeld laat dit dalk eenvoudig lyk – maar dis nie altyd so maklik om toe te pas nie! Die samelewing fokus oor die algemeen meer op lof en ophemeling en as volwassenes is ons dikwels só gewoond daaraan, dat ons dit nie eers agterkom wanneer ons “leë” lof toeswaai nie. Om ’n kind waarlik aan te moedig, moet ’n mens bewus wees van dié eienskappe wat werklik tot sukses bydra. Dit sluit in:

  • Selfdissipline 
  • Waagmoed
  • Selfvertroue
  • Vasberadenheid 
  • Entoesiasme
  • Doelgerigtheid 
  • Netheid
  • Volhardingsvermoë
  • Verantwoordelikheid
  • Kreatiwiteit
  • Energiekheid 
  • Betroubaarheid
  • Self-versekerdheid
  • Geduld
  • Vindingrykheid
  • Taaiheid
  • Hulpvaardigheid 
  • Insiggewendheid

Nie net is dit binne ’n kind se beheer om hierdie eienskappe te ontwikkel en toe te pas nie, maar dis boonop ook eienskappe wat baie groter en verreikender gevolge het as om, argumentsonthalwe, ’n A te kry vir ’n toets. 

Wanneer jou kind weer by die huis kom met ’n wiskundetoets, kan jy gerus probeer om nie nét by die punt of simbool vas te steek nie. Sê eerder iets soos: “Mooi skoot! Sien jy nou hoe jou harde werk jou punt laat verbeter het?” of “Ek is doodseker dis omdat jy elke dag so getrou jou huiswerk doen dat jy nou so gevorder het!” 

Jy mag dalk net aangenaam verras word deur die langtermyn-impak van hierdie benadering!

Verwysings:

De Lisi, M. & Vaughn, M. (2011). The importance of neuropsychological deficits relating to self- control and temperament. International Journal of Child, Youth and Family Studies. 1 & 2: 12-35.

Gunderson, E.A., Gripshover, S.J., Romero, C., Dweck, C., Goldin-Meadow. & Levine, S.C. (2013). Parent praise to 1-3-year-olds predicts children’s motivation framework 5 years later. Journal of Child Development. 84(5): 1526-1541.

Skinner, E., Johnson, S. & Snyder, T. (2005). Six Dimensions of Parenting: A Motivational Model. Parenting: science and practice. 5(2): 175–235

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die Teacha! Magazine (uitgawe 3.1). Lees die nuutste Teacha! Magazine hier.

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.