Deur Lauren Brown
Vir heelwat van ons is ons blootstelling aan filosofie beperk tot ’n inleidende module iewers op universiteit, en al wat jy dalk daarvan onthou, is dat jy vir ’n volle semester lank geworstel het oor die bestaan (al dan nie!) van jou eie siel. Nietemin is dit dalk vandag interessant om te leer oor die bestaan van ’n groeiende denkskool wat in die omgang bekend isas P4C – Philosophy for Children (oftewel, Filosofie vir Kinders). Anders as Inleiding tot Filosofie 101 (verpligtend vir min of meer elke mens met ’n onderwysgraad), maak die beginsels van P4C regtig sin – en kan dit ’n baie nuttige stuk gereedskap in jou onnie-mondering word!
Tydens ’n middagete met goeie vriende, so loop die storie, het Ernest Hemingway glo sy tafelgenote tien dollar gewed het dat hy ’n hele verhaal met net ses woorde kan vertel. Nadat die prysgeld ingesamel is, het Hemingway glo op ’n servet geskryf: “Te koop: babaskoene, nooit gedra nie.” Hy het die servet om die tafel gestuur en sy prys opgeëis.
Soos elke taalonderwyser weet, is gebeure, karakters en tyd die basiese narratiewe boublokkies vir ’n goeie verhaal. Hemingway se storie het niks hiervan nie – en tog is sy skamele ses woorde die perfekte voorbeeld van iets wat gebruik kan word om filosofiese gedagtes te stimuleer. Dink aan die vrae (en aannames) wat by die leser kan opkom: Wie het die advertensie geplaas? Wanneer? Waarom? Is die baba doodgebore? Het die baba groot voete gehad? Is sommige dinge eenvoudig te kosbaar om te verkoop? Hoe lank behoort ’n mens iets nutteloos te hou? Presies soos wat hierdie storietjie sy lesers wil dwing om vrae te vrae, gesprek wil ontlok en kritiese gedagtes wil aanwakker, is die doel van P4C om hierdie proses in kinders se gedagtes te laat vlamvat.
Die volgende twee stappe kan jou help om kritiese denke en debat aan te wakker – selfs al lyk die onderwerp hoe droog en oninspirerend. Gebruik dit in die eerste 10 tot 15 minute van ’n les om die leerders werklik betrokke te kry by die dag se materiaal.
1. Begin jou les met ’n stimulus en vra vrae
’n Stimulus of prikkel is iets wat denke aan die gang sit, vrae laat ontstaan en diskussie ontlok. ’n Goeie stimulus skep twyfel en stel lewenservaring bo feite.
’n Wiskunde-voorbeeld:
Vertel vir jou leerders dat die Mayas se syferstelsel (sien die prentjie hierbo) deur geen ander wiskundige stelsels beïnvloed is, en ook geen ander wiskundige stelsels beïnvloed het nie. Dit kan die vraag laat ontstaan – het mense wiskunde uit niks uit bedink (“invent”) … of het hulle dit as geheel openbaar of ontdek (“discover”)? Indien dit ’n ontdekking is – is dit genoeg rede dat kinders wiskundig geletterd moet wees? Jy kan ook verdere filosofiese bevraagtekening by jou les betrek. Byvoorbeeld: As ’n mens twee syfers met mekaar vermenigvuldig, is die antwoord altyd ’n groter syfer?
’n Wetenskap-voorbeeld:
’n Goeie voorbeeld van ’n wetenskap-stimulus, wanneer oor natuurlike seleksie, ekosisteme, verskillende spesies ensovoorts gesels word, is om vir die klas ’n prentjie van ’n dinosourus te wys en die volgende vraag te vra: Is ’n suksesvolle spesie dié spesie wat die langste onveranderd bly voortbestaan het, of dié spesie wat die grootste intellektuele vooruitgang gemaak het, of die spesie met die grootste populasie?
’n Afrikaansklas-voorbeeld
’n Afrikaanse poësieles kan begin met die volgende stimulus:
Wat beteken die uitdrukkings in vetdruk?
Oe! Oooeee! Og!
(Ag, hoe gaaf!) (Hoera!) (Ai, dis nou jammer!)
Vra dan vir die klas: Hoeveel van wat jy bedoel lê in die werklike woorde wat jy gebruik? As 80 tot 90% van kommunikasie nie-verbaal is … watter rol speel poësie dan om idees te help oordra?
2. Luister na idees en skep ruimte vir bespreking
Die volgende stap is om eenvoudig te luister. Dis noodsaaklik dat ’n onderwyser ’n ruimte moet vestig wat die spontane deel van idees bevorder. Hier is voorstelle vir hoe om te werk te gaan:
- Lê ’n paar reëls neer om goeie dialoog te bevorder. Gebruik byvoorbeeld ’n “praatstok”: wie ook al die stok vashou, kry ’n spreekbeurt. Of gebruik ’n teken soos ’n opgeligte duim (“thumbs up”) om aan te dui dat iemand iets te sê het, eerder as om hand op te steek (wat steurend kan wees).
- Vestig die begrip dat dit gesond is om met respek te kan argumenteer en redeneer.
- Wys vir leerders voorbeelde van hoe om dieper in ’n argument te delf. Dink byvoorbeeld aan alternatiewe standpunte en spekuleer oor die gevolge van elke redenasie. Gee voorbeelde en wys ooreenkomste en verskille uit deur die redes vir elke standpunt te bestudeer.
Daar’s verskeie webwerwe met wonderlike P4C-hulpbronne. Hoewel ’n Google-soektog jou van meerdere opsies sal voorsien, kan jy gerus hierdie as ’n wegspringpunt gebruik:
https://www.thephilosophyman.com/p4c-stimulus
https://www.philosophyforchildren.org/resources/lesson-plans/
Geniet dit om hierdie twee basiese P4C-strategieë in jou klaskamer te implementeer. Jy sal verras wees oor die interessante debatte wat dit laat ontstaan – en oor die vars, interessante idees en opinies waarmee jou leerders vorendag kom. Waarom nié ’n platform bied waar hulle dit verder kan ondersoek nie?
Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die Teacha! Magazine (uitgawe 3.2). Lees die nuutste Teacha! Magazine hier [hyperlink].
Verwysings:
Hymer, B. & Sutcliffe, R. (2012) P4C Pocketbook. Teachers Pocket Books: VK.
Lipman, M. (1982). Philosophy for children. Thinking: The Journal of Philosophy for Children, 3(3/4), 35-44.
Trickey, S. & Topping, K. J. (2004). Philosophy for children: a systematic review. Research papers in Education, 19(3), 365-380.