Die SAOU het met teleurstelling kennis geneem van die kritiek wat uitgespreek is in ‘n koerantartikel van Rapport op 22 April 2018 onder die opskrif “Onnies kry al hoe meer geld”. Dit is onverstaanbaar waarom die opinie van die SAOU nie ingewin is ten opsigte van die aangeleentheid nie aangesien die Unie ‘n direkte belanghebbende party is, as dit handel oor die vergoeding van opvoeders.
Volgens die artikel het opvoeders se salarisse sedert 2010 met 57% gestyg terwyl inflasie slegs met 38% gestyg het. Hierdie statistiek vertel egter nie die volle waarheid nie en is daar wesenlike aspekte wat nie aangespreek is nie. Een van die punte van kritiek is dat die blaam voor die deur van vakbonde gelê kan word. Dit kan nie net goedsmoeds aanvaar word nie, en vereis verdere beredenering. Na oordeel van die SAOU is dit belangrik om die volgende aspekte uit te lig:
- Enige professie, met insluiting van opvoeders, is geregtig op ‘n professionele vergoeding wat die waarde wat hulle toevoeg tot die gemeenskap sal reflekteer. Gedurende die tydperk onder bespreking het die onderwysprofessie werklik hard gewerk, maar gewis nog nie genoeg gedoen om hierdie aspek aan te spreek nie. Opvoeders se vergoeding vergelyk nog nie goed genoeg met ander professionele beroepe in die Staatsdiens nie. Die SAOU sal ongetwyfeld voortgaan om hierdie doel te bereik, nl dat opvoeders op gelyke voet geplaas word.
- Dit is ook ‘n bewese feit dat die onderwysberoep daarin slaag om goeie kandidate te werf en as beginners in die professie aan te stel, maar dit is ‘n bewese feit dat daar werklik gesukkel word om veral die bestuurskader oor die langer termyn te behou. Dit is een van die redes waarom daar werklik ernstig aan opvoeders se loopbaanvorderingsmodel aandag verleen moet word.
- Dit word algemeen aanvaar dat die persoon voor in die klaskamer die belangrikste komponent is om die kwaliteit van onderwys te verbeter. Die kennisvlakke van opvoeders bepaal ongetwyfeld die kennisplafonne van leerders. Goeie salarisse verseker dat die onderwys in staat is om die beste en kundigste opvoeders te trek en te kan behou.
- ‘n Ander aspek wat uit die oog verloor is, is veral die feit dat die befondsing nie die groei in leerdergetalle volg nie. Veral twee provinsies gaan gebuk onder hierdie probleem agv versnelde verstedeliking, nl Gauteng en die Wes-Kaap. Die Nasionale Tesourie sal ongetwyfeld veel meer moet doen om te verseker dat onderwysbegrotings hierdie verstedeliking verreken. Die feit dat die leerdergetalle met 670,000 toegeneem het, kan nie voor die deur van die onderwysprofessie gelê word nie. Dit het ook grootliks te doen met gebrekkige grensbeheer en immigrante wat tot die stelsel toetree sonder dat daar behoorlike maatreëls in plek is.
- Die stelling word ook gemaak dat opvoeders se salarisse vinniger as ander beroepe gestyg het. Die SAOU vind dit moeilik verklaarbaar aangesien dieselfde algemene salarisaanpassings soos deur die Sentrale Koördinerende Bedingingsraad (PSCBC) vir alle beroepe in die Staatsdiens geld. Maar, ander beroepe is geregtig op ‘n jaarlikse salarisprogressie van 1.5% gemiddeld per jaar terwyl opvoeders slegs op 1% geregtig is.
- Kennis word ook geneem van die opmerking dat die afname van finansiering ook in die swakker prestasie van leerders reflekteer soos uitgewys deur die TIMSS en PIRLS assessering. Die SAOU stem daarmee saam. Daar is gewis veel te sê oor die feit dat die provinsiale onderwysdepartemente hulle plig met betrekking tot kwaliteit indiensopleiding gruwelik versaak. Dit is waarom die SAOU hierdie jaar meer as 200 opleidings- geleenthede in al nege provinsies vir opvoeders aanbied.
- Dit is ook ‘n gegewe dat die algemene deurvloeisyfer van leerders vanaf graad 1 tot ‘n suksesvolle graad 12 oor die afgelope paar jaar verbeter het. Ongeveer tien jaar gelede was die deurvloeisyfer ongeveer 35% en het dit toegeneem tot ongeveer 55%. Dit getuig daarvan dat veral opleiding in die primêre skoolsektor grootliks verbeter het.
Die SAOU het met besondere kommer kennis geneem van die voete sleep van die Staat as werkgewer tydens die huidige salarisonderhandelingsproses wat die afgelope twee weke tot stilstand gekom het. Om nou na ses maande aan te dui dat hulle nie oor ‘n mandaat beskik nie is doodgewoon onaanvaarbaar en onverantwoordelik. Hierdie benadering speel in die hande van vakbonde buite die SKBR wat graag wil spiere wys en wil oorgaan tot arbeidsonrus. Die SAOU doen ‘n baie sterk beroep op die Staat om sy huis in orde te kry, na die onderhandelingstafel terug te keer met ‘n behoorlike mandaat en die onderhandelingsproses af te handel.
Die SAOU sal aan hierdie prosesse met die grootste mate van goeie trou deelneem, maar sal ook sy uiterste doen om die bes moontlike bedeling vir opvoeders te verseker.
Persverklaring van SAOU: 24 April 2018