As ‘n jong onderwyser (ek het nog net twee jaar ervaring) het ek baie lank terug van huisbesoeke gehoor. Toe ek klein was, het dit ook nie eintlik gebeur nie. Die skottelgoed moes altyd gewas gewees het want Dominee kon dalk ‘n draai kom maak, maar onderwysers? Ek onthou dat onderwysers baie betrokke was met my ouers (meestal in die kerk omdat ek van ‘n klein dorpie af kom), maar sover ek kan onthou was daar nog nooit ‘n juffrou in my huis nie.
Toe ek vanoggend die meningsartikel in die Washington Post lees oor onnies wat betaal word om ouers te gaan sien en dat dit besig is om deel te raak van sekere skole se beleide, het dit begin duidelik raak hoekom dit ‘n verskil maak. Die artikel lig uit dat ouers eers skepties is oor hoekom onnies wil kom kuier – wat soek die mense in my huis? Daar is mos e-pos en telefoonoproepe? Maar, die waarde daarvan spreek lengtes.
Die onnies wat huisbesoeke doen sê dat daar ‘n duidelike verskil is in gedrag in hul klasse. Leerders is meer gedissiplineerd en minder gee take laat in. Dis asof die onderwysers meer mag oor die leerders het, omdat die leerders weet dat daar ‘n band tussen onderwyser en ouer is. Die onnies ontmoet partykeer eers die ouers in ‘n gemaksone, waar hul nie bedreig voel nie. Later nooi hul self die onnies uit om na hul huise te gaan.
Ons het een keer per kwartaal ‘n oueraand / puntebesprekingsaand, maar jy ontmoet nooit elke ouer nie. Dis ook min wat jy ouers sal kontak om hul geluk te wens met goeie punte, maar ons is vinnig om briewe huis toe te stuur wat waarsku dat hul gaan druip. Die skool is in die middel van gemeenskappe, al reis leerders 10km om by ‘n skool uit te kom is dit nog steeds die middelpunt van hul lewe tot hul 18 jaar oud is. Ons sê ons probeer alles in ons vermoëns om ouers betrokke te kry, maar wie van ons het al die foon opgetel en ‘n afspraak gemaak om ‘n ouer te gaan sien?
Suid-Afrikaanse onnies is oorlaai met groot klasse, baie admin en onbetrokke ouers. Uit ondervinding weet ek dat baie ouers nie die ekstra stap neem om te weet wat in hul kinders se skoollewens aangaan nie. Somtyds is dit omdat hulle self nie die vaardighede het nie en weg wil bly uit die omgewing. Die manier waarop ouers somtyds genader word (amper gedreig word, of net gekontak word wanneer iets fout is) kan dalk verduidelik hoekom ouers bang is om betrokke te raak. As gevolg van sosio-ekonomiese omstandighede is van ons leerders dalk self die ma’s en pa’s – wat doen ons daar?
Ek sê nie dat ons almal nou moet begin huisbesoeke doen nie, maar ek wonder net wat die waarde daarvan sal wees in ‘n Suid-Afrikaanse konteks en sal dit definitief wil probeer.
Wat dink julle hiervan, onnies? Doen julle huisbesoeke?
Lees die Washington Post artikel hier
Hier is ‘n paar ander artikels wat ook die kwessie van onbetrokke ouers aanspreek indien jy dalk nie hou van die huisbesoek idee nie:
Caroline van Dyk
Ek dink dit is n briljante idee. Sal so baie wardeer as n onnie by my kom kuier om ook te sien waarmee ek daagliks deep. Ek is n baie betrokke outer en ja ek laai sommige oggend my kind te laat by die skool af omdat ek verslaap het, maar tussen n voldag werk, skool vir my dogtertjie en kleuterskool vir my seuntjie, huiswerk elke aand van die skool af en huis werk tuis, kinders kos gee, almal se vuil gesiggies en lyfies soon bad, Godsdien, speeltyd saam kinders, tasse pak, lunch pak en self studeer gaan dit soms rof. 10 uit 10 vir die idee, kom kuier asb juffrou, ek nooi jou uit. Dankie tog vir pappa wat so hands on is.